dcsimg

Renoster ( Afrikaans )

provided by wikipedia AF

Die renoster is die grootste lewende landsoogdier met die uitsondering van die olifant. Daar bestaan tans vyf spesies renosters wêreldwyd: drie spesies in Asië en twee in Afrika. Albei spesies van Afrika, naamlik die witrenoster en die skaarser swartrenoster, is ook inheems aan Suid-Afrika. Die meeste renosters is bedreigde spesies.

Renosters word veral gekenmerk deur die horings wat aan die voorkant van hul kop groei. Die horings bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as menslike naels en hare, maar word in sommige lande fyngemaal en in tradisionele medisyne gebruik. Daar is dus 'n groot aanvraag na renosterhoring, en per gewig kan dit dieselfde prys as goud op die swartmark haal. Suid-Afrika het tans 'n baie groot probleem met renosterstropery, en honderde renosters word jaarliks onwettig vir hul horings gejag.[1]

Benaming

Die naam renoster kom via Latyns vanaf die Grieks ῥῑνόκερως (rhinokeras), wat 'n samestelling van ῥῑνο (rhino) betekende "neus" en κέρας (keras) betekende "horing" is. In Nederlands word daar dan deesdae wel van 'n "neushoorn" gepraat. Dit is 'n leenvertaling van die oorspronklike Griekse woord. Net soos in die geval met kameelperd het Afrikaans die outydse Latynse benaming behou, terwyl moderne Nederlands 'n nuwe naam vir die dier gekry het.[2]

Daar heers 'n mate van onsekerheid oor waar die name wit- en swartrenoster vandaan kom, aangesien daar byna geen kleurverskil tussen hulle is nie. Een algemene verklaring is dat die Afrikaanse/Nederlandse naam wat destyds vir die witrenoster gebruik is die wye/wijderenoster was. Dit sou na die grasvretende witrenoster se wye bek verwys het. Die Engelse sou dan hierdie wyd foutiewelik as white vertaal het, en dit sou dan weer op sy beurt in Afrikaans vertaal word as witrenoster.[3] Die swartrenoster sou dan die teenoorgestelde van die witrenoster wees.

Hierdie verklaring word egter betwis, en daar is geen duidelike antwoord te vinde nie.[4] Die gebruik van "wyd"- of "wydbek"-renoster is nêrens in 18e en 19e eeuse Nederlandse geskrifte aan die Kaap opgeteken nie. As dit 'n algemene naam vir die dier was sou mens verwag het dat dit ten minste êrens genoem word. In Engels is die naam white rhinoceros vir die eerste keer in 1798 opgeteken, en van die begin af was daar bespiegelings oor die naam se oorsprong. Daar is 'n hele reeks verduidelikings wat oor die volgende eeu voorgestel is, onder meer dat die witrenoster moontlik effens ligter as die swartrenoster is; die swartrenoster se vel is met mis en modder besmeer wat hom 'n swart voorkoms gee, of die witrenoster se horing is ligter gekleurd aan die binnekant.[3][4] Die teorie dat white rhinoceros 'n korrupsie van 'n Afrikaanse woord is, is eers in 1930 geopper en het aanvanklik nie veel aanhang geniet nie, maar is in die 1950's gepopulariseer. Dit is dus net een van etlike teorieë.[4]

Voorkoms

Die renosterfamilie (Rhinocerotidae) is herbivore wat gekenmerk word deur hulle aansienlike grootte (meer as 'n ton in gewig), 'n dik beskermende vel van 1,5 – 5 cm dik, betreklike klein breinvolumes (500 – 600 g) in vergelyking met hul liggaamsgrootte, en die teenwoordigheid van een of meer groot horings vooraan hulle koppe.

Die gemiddelde gewig van volwasse renosters wissel van 700 – 800 kg vir die kleinste spesie, die Sumatraanse renoster, tot meer as 2000 kg vir die Wit- en Indieserenosters. Die grootse witrenosters weeg in die omgewing van 3600 kg. Die renosterbulle is gewoonlik swaarder as die koeie.

Sommige spesies, soos die wit- en Indieserenosters eet meestal gras, terwyl ander spesies, soos die swart- en Sumatraanse renosters oorwegend blare eet. Renosters het nie voortande wat gebruik word om plantmateriaal mee af te byt nie, maar gebruik eerder hul lippe om kos mee te pluk. Hulle lippe het dan ook kenmerklike vorme, met grasvretende renosters wat plat breë lippe het wat goed werk om gras mee te pluk, en blaarvretende renosters wat skerper gepunte lippe het.

Die renosters in Suid-Afrika (wit- en swartrenosters) asook die Sumatraanse renoster het almal twee horings. Die voorste horing is aansienlik groter as die agterste een. Ander spesies, soos die Indiese- en Javaanse renoster het egter slegs een horing.

Verskillende spesies

In die moderne era is daar vyf renosterspesies: die witrenoster en swartrenoster in Afrika, en die Javaanse renoster, Sumatraanse renoster en Indiese renoster in Asië.

Daar is talle uitgestorwe spesies, soos die Wolhaarrenoster en die drie spesies Aceratherium.

Filmografie

 src=
Grafiese voorstelling van die getal renosters wat jaarliks in Afrika gestroop word.[9]

Die omgewingsjoernaliste, Bonné du Bod, is die vervaardiger en aanbiedster en die filmmaker, Susan Scott, is die regisseur van die bekroonde dokumentêre rolprent, Stroop (rolprent), wat handel oor die Suid-Afrikaanse renosterstropery-krisis.

Sien ook

Bronnelys

  1. (8 Oktober 2010) “Kan renosterstropers gestuit word?”. Landbouweekblad: 4-6. Besoek op 7 Maart 2017.
  2. http://www.etymologiebank.nl/trefwoord/neushoorn
  3. 3,0 3,1 ETIMOLOGIEWOORDEBOEK VAN AFRIKAANS (EWA) EN SUPPLEMENT op CD
  4. 4,0 4,1 4,2 Rookmaker (2003) "Why the name of the white rhinoceros is not appropriate", Pachyderm Jan-Jun 2003, toegang via http://www.rhinoresourcecenter.com/pdf_files/117/1175858144.pdf op 11 Junie 2016
  5. Emslie, R. (2012). ""Ceratotherium simum"". IUCN Rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2014.2. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 9 September 2014.AS1-onderhoud: ref=harv (link)
  6. Emslie, R. (2012). ""Diceros bicornis"". IUCN Rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2014.2. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 9 September 2014.AS1-onderhoud: ref=harv (link)
  7. "worldwildlife.org" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2020.
  8. "savetherhino.org" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 April 2017.
  9. Data van die International Rhino Foundation

Eksterne skakels

license
cc-by-sa-3.0
copyright
Wikipedia skrywers en redakteurs
original
visit source
partner site
wikipedia AF

Renoster: Brief Summary ( Afrikaans )

provided by wikipedia AF

Die renoster is die grootste lewende landsoogdier met die uitsondering van die olifant. Daar bestaan tans vyf spesies renosters wêreldwyd: drie spesies in Asië en twee in Afrika. Albei spesies van Afrika, naamlik die witrenoster en die skaarser swartrenoster, is ook inheems aan Suid-Afrika. Die meeste renosters is bedreigde spesies.

Renosters word veral gekenmerk deur die horings wat aan die voorkant van hul kop groei. Die horings bestaan uit keratien, dieselfde materiaal as menslike naels en hare, maar word in sommige lande fyngemaal en in tradisionele medisyne gebruik. Daar is dus 'n groot aanvraag na renosterhoring, en per gewig kan dit dieselfde prys as goud op die swartmark haal. Suid-Afrika het tans 'n baie groot probleem met renosterstropery, en honderde renosters word jaarliks onwettig vir hul horings gejag.

license
cc-by-sa-3.0
copyright
Wikipedia skrywers en redakteurs
original
visit source
partner site
wikipedia AF